|
|
|
|
|
Gestig 1908
|
Slegs
die notules van 1954 tot 1982 kon opgespoor word, daarom is die meeste
uittreksels uit daardie era. 1931- Die Gemsbokkop as klubwapen word op
24 Februarie 1931 as klubwapen aanvaar. Herklaas Engelbrecht snr het die huidige Eiland Rugbyveld ontbos en gesleep met donkies en plankskrapers, gras is geplant met behulp van skoolseuns. 1937 - Keimoes Rugbyklub toegelaat moet word om bekerwedstryde te speel mits die volgende rowwe spelers nie mag speel nie, naamlik Botha, Payne en Roux. 1937 - Dat
£ 1-5-0 aan Buchuberg gestuur word synde helfte van die hekgeld te wees. 1939 - Die koste van kleurbaadjie en wapen sal £ 3-15-0 wees en mnr Wilkinson stel voor dat die voorsitter, Daantjie Josling, 30 jaart materiaal moet bestel om baadjies mee te laat maak. 1940 - Kotie Kotze bied aan om die orkes te betaal, daar word besluit dat kaartjies 5 sjieling dubbel en 3 sjieling enkel sal wees. 1954 - Die klub doen vir die eerste keer
aansoek vir ‘n permanente dranklisensie. 1954 - Jaarvergadering, Before closing the
chairman extended the club’s congratulations to Franco Schultz on playing for
Griquas during the 1953 season and also being selected to play in the S.A Rugby
Trails at Potchefstroom in the North vs North game. 1954 - Met die bepaling of ‘n lid kwalifiseer as ‘n “Country Member” het reël 13 van die konstitusie as volg gelees, that when dealing with the words “within 5 miles of the Municipal Boundaries of Upington” these words be interpreted as “ within 5 miles by a public proclaimed road”. 1954 - Bellon Bros. bied die klub £ 20 per
seisoen aan vir die alleenreg om roomys te mag verkoop tydens wedstryde. 1954 - Die bestuur besluit om ‘n rolbalbaan
aan te lê. 1954 - Die aansluitfooi vir spelende lede
word vasgestel op 5 sjieling en die van ander lede op £ 3 . 1954 - N.S Basson en sy helpers het R 14
000 ingesamel as gedeeltelike betaling van die huidige paviljoen. 1954 - Die inwyding van die paviljoen by die Eiland het plaasgevind op 12 Junie 1954, 300 pare is verwag vir die dans die aand. Die argitek vir die paviljoen was mnr George Albert. 1954 - Met die inwyding van die paviljoen is die Springbok Hennie Muller genader om die opening waar te neem en toe hy nie kon nie is Frank Mellish voorgestel. 1954 - Die paviljoen het bekend gestaan as
die Harold Holmes Paviljoen. 1954 - Met die bedanking van Kat van Blerk
word Schalk vd Merwe gekies as vise-kaptein van die eerstespan. 1954 - Daar was ‘n Kanoneiland Rugby
Netbalklub sowel as Augrabies Voetbalklub. 1954 - Met inagneming van die Jode
vakansiedae, asook ‘n geskikte datum vir die publiek, is besluit om die
jaarlikse rugbydans op 2 Oktober 1954 te hou. 1954 - Harold Holmes en Abe Hummel word
afgevaardig om met Upington Tennisklub te onderhandel vir die samesmelting van
die twee klubs, die voorstel is algemeen aanvaar deur beide klubs en
samesmelting het plaasgevind, die tennisklub bestuurslede teenwoordig was mev J
Holmes, mev W Coetzer, mnr W Hummel, mnr de Waal en mnr G Carr. 1955 - Die bestuur reël vir ‘n oortrokke
fasiliteit van £ 200 by Standard Bank op die klub se lopende rekening. 1955 - The President showed the committee a sample of the new proposed club tie, which have red as a background with gemsbokheads. 1955 - Na die klub se aansoek om ‘n dranklisensie afgekeur is het die komitee besluit dat lede wat aan die NG Kerk behoort, hul saak moet stel by hul dominee. 1955 - Daar word besluit dat stigterslede 20 gienies moet stort en dat dit sal dien as subskripsie vir 10 jaar. Distriks stigterslede(country members) se subskripsie sal nooit meer as die helfte van ‘n dorpstigterslid ( town member) se subskripsie beloop nie. 1956 - Daar word besluit om ‘n kennisgewingbord aan te bring in Schröderstraat waarop kennis gegee sal word van wedstryde. 1956 - Die klub ontvang £ 27 van die Moths sodat die orkes van die Scottish Highlanders op die rugbyveld kan verskyn voor ‘n klubwedstryd. 1957 - Daar word besluit om as ‘n teken van erkentlikheid £ 5.5 aan mev Herklaas Engelbrecht snr te skenk vir dienste gelewer in die kafee. 1957 - Upington Jukskei-laer doen aansoek om aan te sluit by Upington Rugbyklub. 1957 - Daar word besluit dat intreefooie te
staan bly op 5 sjieling. 1961 - ‘n Karakoelram is geskenk deur mnr Jim Schamly om fondse in te samel vir betaling van spreiligte, die ram lewer die mooi bedrag van R 405 op. 1962 - Die spreiligte word in gebruik
geneem en het R1 900 gekos. 1962 - Die sekretaris deel die vergadering
mee dat die polisie ‘n vertoning van stamdanse deur naturelle van Ammosal op
die rugbyveld goedkeur, maar dat die munisipaliteit toestemming weier. Hy noem
ook dat mnr Harris van die myn sê dat die naturelle kosteloos sal optree en dat
die klub hul net van vleis kan voorsien as die klub dit so sou verkies. 1962 - Die komitee besluit dat 3 dosyn bier
deur die klub verskaf sal word met wedstryde teen besoekende spanne maar dat
die klubspelers ‘n gelyke deel moet bydra en dat dit in die klubkamer geniet
moet word. 1962 - Om klubgees te bevorder is besluit
dat die klub R 10 sal gee vir ‘n geselligheid wat in die klubkamer gereël moet
word maar dat minstens 20 spelende lede teenwoordig moet wees. 1963 - Die sekretaris deel die vergadering
mee dat onderhandel word met Pieter van der Byl (Piet Pompies) om ‘n reeks
konserte te kom gee op 2,3 en 4 Mei, John Longland wys die vergadering daarop
dat dit ‘n nagmaal naweek is en hulle teenkanting van die kerk kan verwag, daar
word besluit om die konserte op ‘n ander datum te reël. 1963 - Franco Schultz word geluk gewens met
sy verkiesing as speler vir die Markötters. 1963 - Die bestuur besluit om ‘n rekening aan mnr S Hayworth te stuur vir die huur van die veld vir ‘n vergadering van die Verenigde Party. 1965 - Spoorweg Rugbyklub wy hul rugbyveld
en paviljoen in op 24 April 1965. 1965 - Upington Rugbyklub doen ‘n skenking van R 22 aan Gordonia Hospitaal wat met ‘n “Old Croc” wedstryd ingesamel is. 1965 - Op die jaarvergadering doen die president mnr Jack Horn die volgende bedankings: Aan: Mnr Frikkie Truter vir die verlenging van die doelpale. Mnre Upington Boubenodighede vir verf Hoërskool Upington vir gebruik van hul grassnyer Munisipaliteit vir geduld met die klub met betaling van lening. 1965 - Die klub omskep ‘n verlies van R 286 in 1964 na ‘n wins van R 923. 1966 - Die orkes van Nico Carstens word gereël vir die jaarlikse dinee van die klub vir R 200. 1966 - Daar word besluit dat elke toerlid R
10 moet betaal om te gaan toer na die Boland en WP, behalwe spelers wat hul
motors beskikbaar stel, dit word benadruk dat geld wat oor is na die toer in
die klub se rekening gestort moet word. 1966 - Daar word besluit om ‘n komitee saam
te stel om gesellighede te reël vir klublede, mnr Mocke stel egter voor dat die
persoon wat kaartjies by die deur neem daar moet bly tot ‘n halfuur na die
fliek uitgekom het om ongewenste elemente uit te hou. 1966 - Na ‘n aansoek deur die klub om ‘n
Noordwes Kaap wedstryd op die Eiland aan te bied ontvang die klub ‘n brief met
onder andere die volgende paragraaf, “Inspeksie het aan die lig gebring dat die
paviljoen van u klub nie behoorlik gemerk is nie. Sommige sitplekke is slegs 12
duim uitmekaar gemerk en andere weer tot 24 duim. My komitee verlang dat u
paviljoen oor gemerk word en dat elke sitplek 20 duim moet wees. Voorsiening
moet gemaak word vir ten minste 2000 sitplekke vir besprekingsdoeleindes. 1966 - Die klub oorweeg dit sterk om van
die Eiland te trek na die skougronde, daar kon egter nie genoeg steun op die
vergadering vir so ‘n besluit gekry word nie. 1966 - Na afloop van ‘n toer na
Loeriesfontein word verslag gedoen dat Dawid Hyman twee bande verloor het op sy
motor, die bestuur besluit om hom R 10 per band te vergoed. 1967 - Dineekaartjies vir die klub se dinee het R 1,50 beloop, Oranje Hotel het die etes voorsien teen 95c per kop. 1969 - Die klub besluit om die klubwapen te
laat registreer, koste sou R 115 beloop. 1967 - Hoteltariewe uitgevind vir ‘n besoekende span van Windhoek, Oranje Hotel - R 4.10 kamer sonder bad R 6.00 kamer met bad, Gordonia Hotel R 4.10 kamer sonder bad. 1967 - Met ‘n besoek van ‘n span van die
Potchefstroomse Universiteit is ‘n brief vooraf ontvang met onder ander die
volgende paragraaf, “Geen dansparty/e
van watter aard ookal mag deur ‘n toer - of P.U.- verteenwoordigende groep of
lid bygewoon word nie. 1968 - Voor ‘n besoek van ‘n Matie toerspan
ontvang die klub ‘n brief wat onder andere sê dat dit die klub vry staan om ‘n
geselligheid of dans te hou vir die besoekende studente en dat hul graag bier
en wyn sal geniet indien die klub dit sou wil aanbied, maar dat die studente
nie toegelaat word om sterkdrank soos brandewyn, whisky of jenewer te gebruik
nie. 1968 - Op die jaarvergadering word besluit
dat die kleurbaadjie moet verander na blou in plaas van gestreep. 1969 - Op ‘n spesiale algemene vergadering gehou 18 Maart word ‘n veranderde konstitusie aanvaar, hier is ‘n paar uittreksels. Reël 1: Die naam van die klub sal “Upington Rugby - voetbalklub” wees.
Reël 2: Die kleure van die klub sal as volg wees: Donkerblou truie met
wit krae, wit broeke en donkerblou kouse met donkerrooi omslae. Die
kleurbaadjie sal donkerblou wees. Die klubwapen sal bestaan uit ‘n gemsbokkop
wat in profiel en natuurlike kleure op ‘n donkerblou agtergrond aangebring is
met die letters U.R.F.C. onderaan. 1969 - Daar word besluit om ‘n
stoepverkoping te hou om fondse in te samel, Peter Head stel voor dat
groenmielies te koop aangebied moet word. 1969 - Die sekretaris, Ben van den Heever, bedank per brief mev Jankielsohn vir die sukses wat sy gemaak het van die klub se stoepverkoping, hy vra haar ook om die dank van die klub oor te dra aan Chummy “vir sy aandeel in die broodsnyery”. Hy noem ook dat Upington Rugbyklub baie arm sou gewees het in die sin van klubgees, samewerking en finansies sonder die Jankielsohn’s. As naskrif skryf hy as volg, “Ek bied my verskoning aan dat ek die brief nou eers tik, maar ongelukkig was ek lank in die bed met die Hong Kong griep”. 1969 - Chummy Jankielsohn stel op ‘n bestuursvergadering voor dat films van toetsrugby verkry moet word en aan spelers vertoon moet word. 1969 - Op die jaarvergadering word besluit om ledegeld te verhoog van R 3 na R 5 per jaar, op voorstel van Peter Head. 1969 - Die huur van die Eiland word vooruit
betaal vir 25 jaar teen 10c per jaar. 1969 - In ‘n brief van Bethlehem Rugby Club oor ‘n voorgenome toer deur Upington Rugbyklub die volgende uittreksel, “Ons sal u ‘n gedeelte van die hekopbrengs gee wat nie minder as R 10 sal beloop nie, indien ‘n goeie hek maak ons dit meer.” 1970 - Daar word voorgestel dat biltong ter waarde van R 10 aan D. Hopwood geskenk word, tesame met ‘n bedankingsbrief vir kaste deur hulle geskenk. 1970 - Die kwotasie vir die kroegtoonbank met ingeboude koelkaste soos opgerig in die ou kroeg, was vir R 208.60 en is verskaf deur Lampies & Nix Elektries. 1970 - Indien instansies die
klubfasiliteite wil huur word die huur op R 11 vasgestel. 1970 - Met ‘n wedstryd aangebied op die Eiland tussen Dorp, Senekal, Oostelikes en Beaufort Wes moes die hekgeld met Oostelikes gedeel word. Die uiteensetting aan hulle het as volg gelees; Opbrengs hek R 109.50 Min kostes: Vleis + wors 130 lb. @ 28c/lb. 36.40 Papierborde 1.80 Brood 2.73 Lone 3.00 Ligte 5.00 48.93 Netto Opbrengs 60.57 Helfte van opbrengs R 30.28 1971 - Na ‘n brand in die heining om die
veld asook in die palmlaning maak die klub beswaar per brief oor ‘n rekening
van die munisipaliteit vir brandbestryding, soos volg. “Die brand in ons heining is deur ons self
geblus en die brandweer het hulle hoofsaaklik toegespits op die twee palmbome.
Weens ontoereikende hoeveelheid water wat die wa hou, moes hulle kort-kort dorp
toe ry en die drie persone wat blykbaar op diens was, was onnodig omdat daar
net werk was wat een persoon met gemak kon hanteer. 1972 - Op die jaarvergadering word Herklaas
Engelbrecht jnr en Bert Young gelukgewens met hul uitnodiging na die S.A
rugbyproewe. 1972 - Oranje Unie laat weet per brief dat
die klub weens stygende koste sy hekgeld van 30c na 40c mag verhoog. 1973 - Herklaas Engelbrecht word op die
jaarvergadering geluk gewens met sy verkiesing vir ‘n Rhödesiese
Uitnodigingspan. 1973 - Na ‘n wedstryd teen Kenhardt doen
die spanbestuurder, Oosie Oosthuizen, verslag aan die bestuur dat twee spelers
nie teenwoordig was toe die spanne vertrek het nie en die betrokke twee spelers
in ‘n “uiters beskonke” toestand in die Kenhardt Hotel aangetref is, beide
spelers, Nico Louw en Frans vd Merwe, is
uit die klub geskors. 1973 - Tien van Dorp se spelers
verteenwoordig Noordwes Kaap. 1973 - Ledegeld verhoog van R 5 na R 6. 1974 - Elf van Dorp se spelers
verteenwoordig Noordwes Kaap. 1974 - Herklaas Engelbrecht verklaar hom
bereid om die rugbyveld te herstel na die vloed, teen 10c per perdekrag uur en
dat die totale koste nie R 600 sal oorskry nie. Spelers sal self die paviljoen
skoonmaak en verf, asook help om gras te hervestig. 1974 - Die volgende aantal lede het aan die onderskeie klubs op die Eiland behoort: Rugby - 60 Krieket - 25 Rolbal - 30 Tennis - 40 1974 - Herklaas Engelbrecht jnr deel die
bestuur mee dat hy nie weer in 1975 beskikbaar is as kaptein nie. 1974 - Upington Munisipaliteit deel die
klub mee dat hulle nie weer bereid is om die Eiland Rugbyveld aan die klub te
verhuur nie, hulle verklaar hul bereid om iets soortgelyks in ruil aan te bied
om die klub in dieselfde posisie te plaas as wat hulle was. 1974 - Die sekretaris ontvang opdrag van die bestuur om R 122, wat ge-in is by die hek tydens ‘n wedstryd teen Ammosal, oor te betaal aan die Benede Oranjerivier Noodlenigingsfonds wat hulp aan mense verleen na die vloed. 1974
- Daar word besluit om kraaglose V-nek truie aan te skaf om in te speel en dat
die rooi omslag van die kouse vervang sal word
met twee dun eweredige wit strepe op ‘n blou omslag. 1974 - Daar word besluit om nie meer ‘n kaas en wynaand aan te bied nie weens die feit dat daar nie genoeg kaas verkry kan word nie. 1974 - Die voorsitter wens Piet Karsten
geluk met die eer wat hom te beurt geval het om deel te neem aan die Gaselle
proewe. 1974 - Oranje Unie skenk R 50 aan Dorp vir
herstel van hul veld na die vloed. 1974 - Die rugbyklub bedank mnre Herklaas
Engelbrecht, Piet Karsten en Jan van Schalkwyk vir die herstel van die veld na
die vloed. 1974 - R30 word aan Burt van der Westhuizen
betaal vir sy reiskostes vanaf Boegoeberg vir die hele seisoen. 1974 - Op ‘n spesiale algemene vergadering
word besluit om die klub se naam te verander na Upington Rugbyklub, dit sal ook
die nuwe benaming onder die gemsbokkop op die klubwapen wees. 1975 - Paul Barnard noem op die
jaarvergadering dat dit ‘n groot verlies vir die klub is om ‘n man soos Chummy
Jankielsohn wat 21 jaar lid was van Dorp te verloor, waar hy nou verhuis na
Stellenbosch. 1975 - H van Staden skenk tien spotprente
om in die klub se kroeg op te hang. 1975 - John Longland verklaar hom bereid om
R 500 aan die klub rentevry te leen. 1975 - Die bestuur besluit om op naburige
dorpe rolprente te vertoon met rugby toetse as voorprente, ter insameling van
fondse. 1975 - Piet Karsten neem by Herklaas
Engelbrecht oor as kaptein van die eerstespan. 1975 - Daar word besluit dat die klub
voortaan met die bus van mnr N. Bezuidenhout na alle wedstryde buite Upington
sal reis en dat hy 50c per myl vergoed sal word. 1975 - Die klub laat omhein die rugbyveld
en paviljoen op eie koste. 1975 - In sy toerverslag na afloop van ‘n toer na Oos-Londen doen Franco Schultz ‘n beroep op die bestuur dat die klub sy eie bus moet aanskaf. 1975 - In ‘n brief aan die klub deur
Cambridge Rugby Football Club word die volgende verblyfreëlings bevestig by die
Hotel Osner in Oos-Londen, “we confirm that the accommodation booked on your
behalf comprises seven suites, each consisting of a main bedroom with two beds,
a secondary bedroom with bunk beds suitable for adults, a kitchen and a
bathroom. These units are priced at R 14.50 per day. Breakfast is offered at a
fixed sum of R 1.50 per head and lunch varies from 60c to R 1.40. 1976 - Kwotasie word verkry vir nuwe
spreiligte en staalmaste, die maste sou R 4 500 kos en die ligte plus
ondergrondse kabel ‘n verdere R 1 500, die bestuur besluit dat dit te duur is
en dat die klub maar sal hou by sy ou ligte. 1976 - Die klub hou ‘n besigtigingstoer na
die nuwe aanloopbaan by die lughawe met ‘n skemerkelkie daarna, dit kos R 3 per
kop en die klub maak ‘n wins van R 350. 1977 - Tydens ‘n spesiale algemene
vergadering verklaar Upington Rugbyklub hom bereid om “gemengde
wedstryde”(wedstryde teen kleurlingklubs) te speel, mits die komitee spelers 14
dae voor so ‘n wedstryd kennis gee dat so ‘n wedstryd gereël is. 1977 - Upington Hokkieklub doen aansoek om
by die klub aan te sluit. 1977 - Die eerste warmwatereenheid word
geinstalleer in die storte, dit is geskenk deur mnr Human. 1977 - John Longland verwys in sy
voorsittersverslag na die toer in die Boland en sê dat baie goeie rugby gespeel
is, veral teen Mosselbaai en hy skryf dit toe aan die min drank wat deurgans
verbruik is. 1977- Dorp wen beide die eerste en tweede
liga, die tweedespan verloor nie een wedstryd nie. 1978 - Op aandrang van Herklaas Engelbrecht
jnr word ‘n vergadering belê om ‘n moontlike toer na Italië te bespreek, so ‘n
toer word in beginsel aanvaar. 1979 - Dantes Liebenberg word op die
jaarvergadering gelukgewens met sy insluiting in die S.A Platteland span. 1980 - Lewenslange lidmaatskap word aan
Alex Joubert toegeken vir geriewe en dienste aan die klub gelewer. 1980 - Dantes Liebenberg bou ‘n kalkmasjien vir die klub waarmee lyne gekalk kan word. 1980 - ‘n Voorstel van mev Debbie de Wet
aangaande voorgestelde verandering aan die klubwapen word voorlopig aanvaar. (
Byvoeging van rugbybal onder die gemsbokkop) Allan Marais sal die ontwerp in
ink voorberei sodat dit aan die Staats Heraldikus gestuur kan word. 1981 - Upington Rugbyklub koop R 3 000 se
Bonusobligasies met vaste depositos wat losgekom het. 1981 - 16 Rugbytruie word aangekoop by
Gazelle Sports ten bedrae van R 325. Skenkings vir betaling daarvan word
ontvang van Roelf Beukes - R 100, Piet Karsten - R 100, Dantes Liebenberg - R
100 en Herklaas Engelbrecht - R 25. 1981 - Klub 100 word gestig en dien as
ondersteunersklub vir Upington Rugbyklub, hul hoofdoel is om deur middel van
funksies en gesellighede fondse in te samel vir die rugbyklub. 1981 - Die klubwapen word amptelik
geregistreer. 1981 - Die voorsitter, John Longland deel
die vergadering mee dat hy beoog om te bedank as voorsitter. Die besluit spruit
voort op voorstel van sy geneesheer, Dr Barnard, aangesien hy rugby te ernstig
opneem en dit nadelig is vir sy gesondheid. (Op
die volgende vergadering het hy sy besluit teruggetrek.) 1981 - ‘n Kort toer na De Aar word gereël
waartydens spelers hul vrouens en kinders kan saamneem. 1982 - ‘n Komitee word saamgestel ten einde
reëlings te tref aangaande die 75 - jarige bestaan van die klub, die komitee
bestaan uit F Schultz, C Keun en J Longland. 1982 - Mnr Newell Terry verklaar hom bereid
om R 1 000 te skenk, maar dat daar iets mee gekoop moet word wat ‘n aanwins vir
die klub is, daar word besluit om ‘n bandspeler te koop, die besluit word egter
later herroep en ‘n ysmasjien word aangeskaf. 1988 - Terwyl die Eiland Rugbyveld herstel
is na die vloed het die klub saans op die velde van Hoërskool Upington en 8 SAI
geoefen, die kroegman het elke aand ‘n koelhouer saam gevat sodat die manne
darem ‘n lafenissie na afloop van die oefening kon geniet. 1988 - Die ou kroeg in die klubhuis word
vergroot tot sy huidige vorm, dit is hoofsaaklik gedoen met geld wat deur versekering
uitbetaal is vir vloedskade. 1990 - Upington Rugbyklub kry na jare se
gesukkel ‘n permanente dranklisensie, die koste daaraan beloop R 6 000. 1990 - Toe die klub die gras wat hulle op
eie koste hervestig het na die vloed, aan ‘n plaaslike tuindienste
maatskappy, wat dit op ‘n spesiale
manier sou afsny en die veld weer herstel, wou verkoop om fondse te-in gedurende
die afseisoen, is hulle deur die Munisipaliteit se prokureurs gestop as sou dit
beskadiging van munisipale eiendom wees. 1996 - Met die ontbinding van Noordwes Kaap
Rugbyunie is alle fondse en beleggings in hulle naam, oorbetaal aan Griekwaland
Wes Rugbyunie. Die klubs het niks ontvang nie. 1998 - Na jarelange toutrekkery tussen die rugbyklub en Upington Munisipaliteit oor die verskuiwing van die klub na ander velde, is daar nou gevorder tot ‘n ooreenkoms dat die klub nog mag aanbly op die Eiland, maar dat daar elke jaar van vooraf aansoek gedoen moet word om die volgende jaar op die Eiland te mag aanbly. Email ons deur te click |