|
|
|
|
|
Waar lê Upington? Na 'n wedstryd op Nababeep was Dantes Liebenberg, Petri Botes en Willem Carsten die nag op pad terug na Upington met Dantes se rooi Renault. Hulle het Vioolsdrif oor gery, omdat die Poffadderpad nog 'n grondpad was, volgens Dantes het hulle vroeër nog op kortgolf geluister hoe boks Kallie Knoetze en dat die ontvangs so swak was dat hulle net elke vierde vuishou hoor val het. Tussen Karasburg en Ariamsvlei gooi Dantes die Renault om, die motor kom weer op sy wiele tot stilstand langs die pad. Willem wat op die agtersitplek gelê en slaap het kom orent en met 'n gehoes vra hy hoekom die Renault dan so stof, waarop Petri hom meedeel dat hulle so pas gerol het. Willem sê dit kan nie waar wees nie want die tape speel dan nog. Toe hulle verder wil ry sê twee manne Upington lê na links en Dantes sê Upington lê regs, dit was glo 'n groot gestry voor die manne konsensus kon bereik.(Dantes Liebenberg)
Toeskouer byt in die stof. Eendag tydens 'n tweedespan wedstryd op Kakamas het die gemoedere maar redelik hoog geloop, die skeidsregter was Alex Joubert, Godfrey Kuun het op slot uitgehelp vir Dorp se tweedes. Een van die toeskouers van Kakamas het kort-kort aanmerkings gemaak oor die skeidsregter se blasery, Alex het al die toeskouer wat langs die veld gestaan het 'n paar lelike vuil kyke gegee. Tydens 'n lynstaan laat die toeskouer weer van hom hoor en voeg toe by, "ja en dan kyk jy ôk nog vir my", Godfrey wat op daardie stadium voor Alex was dink toe die ou praat met hom. Godfrey sê toe die haker moet net so bietjie wag en stap na die toeskouer en met een almintige hou slaan hy die ou plat, hy neem toe weer sy plek in en die wedstryd gaan aan. Later toe Alex by Godfrey verby draf bedank hy hom dat hy opgekom het vir die skeidsregter, al wat ou Godfrey sê is, "Mister Ref as daai ou my weer beledig slaan ek hom vrek".(Schalk Schultz)
Really rugby. In
1987 het Tommy Bedford in ‘n engelse sondagkoerant, vir wie hy ‘n gereelde
rubriek, Bedford on Sunday, geskryf het, melding gemaak van ‘n wedstryd wat hy
bygewoon het op Harrismith tussen Oos Vrystaat en Noordwes Kaap. Hier is ‘n
paar uittreksels daaruit. I went to Harrismith last weekend to visit
the family and could not help noticing on Saturday morning an unusual
proliferation of out-of-town numberplates. The reason was soon obvious. A large
number of posters announced a “groot rugby dag” with Oos Vrystaat playing
Noordwes Kaap. We also had the treat of seeing the biggest
centre three-quarter ever in a rugby jersey, in action for Noordwes. Werth van
Jaarsveld is a slightly(but only slightly) smaller version of Flippie van der
Merwe. Astonishingly he had the ability to carve a gap by somehow thrusting
first his belly and then wiggling his bum in total deception of the Oos
Vrystaat manne until he unfortunately tweaked his hamstring forcing a gap
through which neither belly nor bum would fit. By contrast, Noordwes scrumhalf, one Eddie
Hammer, must be the smallest man in provincial rugby. Yet Eddie ,with big
heart, kept hammering away, breaking round scrums and repeatedly taking on the
rather large gentlemen of the Oos Vrystaat pack all afternoon. So I went to the gathering of genuine rugby
folk who were only too happy to pay for their own drinks at the official
function. Such is the state of the game at Sport
Pienaar level where they battle on regardless despite all indications of a game
dying in the sticks. Werth van Jaarsveld was
ten tye van die wedstryd ‘n lid van Upington Rugbyklub en Eddie Hammer het vir
Weermag gespeel.
Score met die verkeerde bal. Tydens 'n wedstryd op Danie Kuys tussen Oranje Subunie en 'n studente toerspan was Jan van Zyl die een flank vir Oranje. Op 'n stadium word die bal oor die muur rondom die veld geskop, die skeidsregter beveel kort daarna 'n skrum, teenaan die kantlyn. Net voordat die skrumskakel die bal kon insit skop die baljoggie die bal wat vroeër oor die muur geskop is terug, en die bal kom te lande kort langs die skrum. Jan dink toe dit is 'n bal wat uit die skrum kom, tel die bal op en storm op die opponente se doellyn af. Al die spelers sien dit is die verkeerde bal en gaan staan, maar Jan verwar die gelag van die toeskouers met aanmoediging en laat loop die 40 tree doelyn toe en "score". In die kleedkamer sê Jan hy het begin twyfel nadat hy die derde opponent systap sonder dat iemand aan hom kon raak.(Schalk Schultz)
Kaptein jaag eie speler van veld. Eendag tydens 'n Oranje Unie wedstryd teen RAU waarin Herklaas Engelbrecht kaptein was het die volgende gebeur. Bontstok Minnaar(Gordonspark) was die heelagter en hy was 'n man wat skerp was met sy mond, gedurende die wedstryd het Bontstok seer gekry en hy het vreeslik aan die vloek geraak. Almal wat hom probeer stilmaak het, het deurgeloop onder sy tong, insluitend sy eie spanmaats. Herklaas het die skeidsregter gevra om die wedstryd te stop en toe jaag hy sy eie heelagter van die veld. Daarna het die wedstryd voortgegaan met slegs veertien man aan Oranje se kant. Tot vandag kon ons nêrens vasstel dat dit al ooit gebeur het in enige ander rugby nie.(Herklaas Engelbrecht)
Waar Mr Harold, waar? Die Klub is onoorwone: Kenhardt en Kakamas is maklik geklop. 'n Ikey toespan kom kuier. Daar word gespeel op die grondveld vand die klub en gou gou is die telling groot teen die dorp. Weer breek die hele agterhoede van die Ikeys deur. Harold Holmes, dorp sentre skree op Willie van Rooyen, heelagter, "Keer Van Rooyen, keer". Willie steek vas, hande teen sy sy en kyk goe die opposisie weerskante by hom verby hardloop om weer te gaan druk. Sy antwoord - "Waar Mr Harold, waar?"(Dr.B.VD Merwe)
Groot verleentheid op De Aar. Tydens 'n
Noordwes Kaap wedstryd teen Noordoos Kaap op De Aar, was twee oudspelers van
Dorp betrokke in 'n voorval waaroor hulle jare daarna nog gespot is. Raymond
Webster was die skrumskakel en Hannes Thirion die een senter vir Noordwes, die
betrokke wedstryd. Noordoos het die bal gewen en dit laat loop teen hul
agterlyn langs, Jannie Moolman hul heelagter het in die lyn gekom en tussen
Noordwes se senters deurgebreek met Hannes wat hom agterna gesit het. Raymond
wat agter die agterlyn gaan dek het het vir hulle staan en wag en hom gereed
gemaak vir die plettervat van sy lewe, Moolman was heelwat groter as altwee ons
manne. Toe Moolman die halflyn bereik, reg voor die paviljoen, was Hannes net
twee tree agter hom en Webster omtrent vier tree voor hom, Webbie het sy oë
toegeknyp en laat loop met 'n "flying tackle". Moolman systap en
Webster tref vir Hannes reg voor die bors met een van die mooiste plettervatte
wat nog gesien is in 'n NWK trui, hy dra hom 'n goeie twee tree terug. Moolman
het onder die pale gedruk en hulle skopper het al pale toe geskop toe sit ons
twee manne nog op die halflyn. (Schalk
Schultz)
Beseer maar gewillig. Met 'n Dorp toer na die destydse Suidwes het die duisend kilometer rit tot in Windhoek maar sy tol geëis op die manne se gestel. Na 'n baie harde wedstryd teen Windhoek Polisie, wat daardie jaar verskeie Suidwes spelers gehad het, moes daar voorraad gehou word van die spelers wat sou kon speel in die tweede toerwedstryd teen Keetmanshoop. Eric de Wet was die kaptein en het die manne mooi gevra om tog nie onnodig te onttrek nie aangesien daar reeds te min spelers was. Toe hy wou vasstel of daar genoeg vleuels sou wees vra hy vir Louis Boshoff of hy sal kan speel, Louis sê toe hy sal kan speel maar hy kan net nie hardloop nie. Die onderkaptein Dantes Liebenberg merk toe so droogweg op dat dit nogal belangrik is dat 'n vleuel moet kan hardloop. Die uiteinde was toe dat Vikus Visser drie spelers moes invlieg om die span vol te maak.(Schalk Schultz)
Voorwaardes Die dorp moet op Kakamas gaan speel maar kan nie 'n span vol maak. Die Hoerskool word genader vir skoopkinders om die span vol te maak. Mr Lambrecht, skoolhoof gee toestemming - op een voorwaarde. Onthou - dis winter, die pad soontoe en terug is ongeteer en vervoer is op 'n oop 3 ton lorrie, sonder trallies, sonder banke. Die voorwaarde - die seuns moet agter op die bak sit en agtertoe kyk - hulle moet nie sien hoe die mans drink nie .(Dr.B.VD Merwe)
Dans op 'n volkslied. Tydens 'n onthaal in Keetmanshoop se skousaal na afloop van 'n wedstryd tussen Keetmanshoop en 'n Dorp toerspan moes die spanbestuurder, Marius Hydenrych, mooi verduidelik om sy span se naam te red. Dit was in daardie tyd omtrent 'n instelling dat een of ander tyd tydens so 'n onthaal, waar gewoonlik ook gedans is, die Suidweslied gesing sou word. Die Suidweslied was vir elke Suidwester soos die Stem vir Suid Afrikaners, almal het op aandag gestaan en uit volle bors aan die pragtige lied saamgesing. Die betrokke aand het die Keetmans manne maar styf aan hul meisies houvas en nooit 'n dans uitgesit nie want die ongetroude Dorp manne was ook maar lief vir dans. So gebeur dit toe dat die Suidweslied gespeel word en almal op aandag spring. Almal behalwe 'n paar manne van Dorp wat die geleentheid aangryp en 'n paar Suidwesters se meisies vir 'n dans vra op die Suidweslied. Die Keetmanshopers was agterna nie baie gelukkig nie, ons weet nie of dit was oor hul volkslied, of omdat hulle meisies so gewillig ingestem het tot die dans nie.(Schalk Schultz)
Wen geveg met vyftig tree. Gedurende 'n wedstryd op Kathu tussen Dorp en die "Eppies", breek daar die dag 'n lekker groot geveg uit op die veld. In die kleedkamer is al gesê dat as daar geslaan word moet almal saamstaan sodat die opponente weet dat as hulle moeilikheid soek die Dorp manne nie terug gaan staan nie. Siebert Myburg was die een vleuel van Dorp en hy sien toe hoe een van Kathu se groot slotte besig was om vir Koos de Wet van agter af te slaan, Siebert hardloop toe nader om te gaan help. Toe hy by die ou kom spring hy in die lug, om by te kan kom, en gee die slot 'n helse klap. Die Kathu man los vir Koos, wat op daardie stadium in elk geval die verpligte agt tellings moes aanhoor, en storm vir Siebert. Siebert besluit toe die ou sal hom kan slaan maar nie kan inhardloop nie, en hy laat loop vir die oorkant van die veld. Die geveg was al verby toe sien die manne nog vir Siebert waar hy oor die besproeingspype langs die veld spring soos 'n wafferse hekkies atleet. Die slot kon maar net lag en die wedstryd het verder sonder enige voorval verloop.(Schalk Schultz)
Toeriste attraksie Na ‘n wegwedstryd teen Kathu was Dorp se spelers oppad terug in motors, toe Louis Boshoff, Schalk Schultz en Andries Brand (jnr), wat saam in een motor gery het, besluit om ‘n vleisie te braai tussen Olifantshoek en Upington. Terwyl die drie manne om die vuur staan, het daar twee buitelandse toeriste in ‘n Citroen gestop wat wou sien wat doen die drie. Nie een van die drie was eintlik baie engels magtig nie, maar hulle het tog probeer om met die toeriste te gesels. Schalk het die gesprek aan die gang gesit met die volgende sin. ”My father have also a citroen, it is a very nice car because it has no feathers that can go flat when you load it heavily”. Toe die toeriste wil vertrek vra Schalk, ”Don’t you want to take some roadfood along to eat later”. Nodeloos om te sê dat die toeriste nie veel van die manne se engels verstaan het nie maar hulle drie het mekaar se engels so goed verstaan dat hulle sommer besluit het om engels te praat tot in Upington.(Andries Brand jnr) Dawid pak Goliat Tydens
‘n wedstryd tussen Dorp en Keimoes, wat in daardie jare ‘n besonderse sterk
span gehad het, het die volgende insident plaasgevind. Die skrumskakel van
Dorp, Muggie Wilkenson, is tydens die wedstryd ‘n paar keer deur Thomas Visser,
groot flank van Keimoes, afgeknou. Terwyl ‘n losskrum aan die gang was vlieg
Visser op en begin jaag vir Muggie oor die veld, toe Dorp se kaptein, Franco
Schultz, tussenbyde tree en vra wat aan die gang is kom dit uit dat Muggie net
gewag het totdat Thomas in die losskrum sak en hom toe bygehardloop het en ‘n
hengse skop tussen sy hakskene gegee het, net heelwat hoër. (Franco Schultz)
Wiskunde Op die Eilanddorpsveld.Die finaal tussen UR Klub en Gordon Park vir die beker. Die Dorpklub wen makilk met 'n groot telling en met die afstap na die wedstryd is Franco Schultz - dorps haker, genader deur 'n Gordon Park onderteuner met die aantuiging - " daardie drie wat jy gedruk het was nie 'n drie nie". Franco kyk om na die scoreboard, wys hom die teling en antwoord - "Trek dit af! (Dr.B.VD Merwe)
Laat vir oefening Daar
het ‘n vleuel vir Dorp gespeel met die naam van Frans, hy was besonder lank en
het gehardloop met sulke lang treë. Frans het in Upington gewerk maar het ‘n
boerderytjie gehad op Keimoes, elke Woensdag het hy sy Volkswagen gevat en die
grondpad aangedurf Keimoes toe om te gaan kyk of alles reg is op die plaas. Sy
tyd was maar redelik beperk want hy moes betyds terug wees op Upington vir die
oefening. Dit gebeur dan toe ook so dat Frans die aand laat kom by die
oefening, na hy behoorlik geborsel is kom die storie toe uit. Die middag het hy
die Volkswagen so hard gery as hy kon, by die oorgang oor die spoor by
Helbrandleegte was daar nie tyd vir stilhou nie. Toe hy egter weer kyk kom die
Kakamas trein oop en toe op hom af. Frans sê hy skop toe die Volla se alle
remme aan, die ou karretjie gly toe op die los gruis en swaai 180 grade in die
rondte, met die skrik stamp Frans die motor uit rat en hy ry toe agteruit oor
die oorgang net voor die aankomende trein. Hy sê daar is twee geluide wat hom
altyd sal bybly en dit is die geskree van remmende treinwiele en die skel
gefluit van die trein wat voor sy motor se neus verby snel.(Franco Schultz)
Vroeër dae se
reisreëlings vir sport. Oom
N.S. Basson het vertel dat as hulle teen Keimoes rugby en netbal moes gaan
speel het hulle 4 uur die Vrydagoggend met verewaentjies vertrek, brekfis en
middagete langs die pad geeët en die aand op Keimoes geslaap, vir Saterdag se
wedstryd. Indien hulle vroeg kon wegkom het hulle gewoonlik Saterdagaand nog ‘n
skof terug afgelê en langs die pad geslaap. Oom
Andries Carstens het weer vertel dat as hulle teen Upington kom speel, het
hulle gewoonlik die Vrydagaand by die duine net buite Upington geslaap, die
Saterdag gespeel en weer by die duine geslaap, en dan die volgende dag terug
Keimoes toe.(Franco Schultz)
Ontstoke Spanbestuurder. Die
klub het een bitter koue Saterdag teen Marydale gaan speel, Oom Willie van
Rooyen was die spanbestuurder en die vervoer was Oom Andries Brand se Ford
lorrie met lang hout banke, oop vensters en ‘n hout kap. Soos gesê dit was koud
en Willie van Rooyen het ‘n kan soetwyn byderhand gehad waaruit hy en Oom
Andries nou en dan ‘n paar trekke gevat het. Net toe die span op die veld moet
gaan, stap Oom Willie na die skeidsregter en vra die bal. Nadat hy die bal
bevoel en bekyk het roep hy ewe saaklik die voorsitter van Marydale nader en
deel hom mee dat hy weier dat sy span met die bal speel, aangesien dit te rond
is en nie gepoleer is nie. Die voorsitter van Marydale erken toe dat dit nie ‘n
nuwe bal is nie maar sê ook dat dit die enigste bal op Marydale was en dat as
Willie aandring op ‘n nuwe bal iemand die 50 myl Prieska toe sal moet ry om ‘n
nuwe bal te gaan koop. Daar is toe maar met die betrokke bal gespeel en Dorp
het so vêr gewen dat dit nie nodig was om aan te dring op punte nie. Die aand
toe daar terug gery word kry die Ford ‘n papwiel en aangesien daar nie ‘n spaar
was nie het Oom Andries maar so gery met die papwiel. Toe die band later
afspring was dit so warm dat dit gegloei het in die donker, almal het toe maar
in ‘n kring om die band gaan staan vir ‘n bietjie hitte, terwyl van die spelers
15 myl na die naaste telefoon gestap het om vir Oom Jan Liebenberg te gaan bel
om die span te kom haal met sy oop lorrie. Nodeloos om te sê dat hulle laat
gekom het vir kerk en dat die getroude manne erg in die moeilikheid was.(Franco Schultz)
Flinkdink op sy voete. Rugbyspelers
is manne wat jonk van gees en vol energie is en dit bring hulle soms in die
moeilikheid. So het dit dan gebeur dat ‘n speler met die bynaam Cavalla, een
oggend net na dagbreek eers by die huis kom, nadat hy saam met die manne uit
was. Hy het toe nog by sy ma gewoon, en soos dit vroeër gewoonte was het die
mense buite geslaap as dit warm was. Toe hy die oggend by die huis kom word sy
ma wakker en lig haar op haar elmboog en kyk hom verontwaardig aan, ewe
“polite” vra hy toe, “slaap Ma dan al”.(Franco
Schultz)
Vrou wat ‘n man
verstaan. Na
‘n wedstryd teen Kenhardt, wat deur Dorp gewen is, het die manne maar redelik
feesgevier, en soos dit mos maar gaan kan party van ons, feesvieringe moeiliker
hanteer as ander. So het dit dan toe gebeur dat een so ‘n speler, die aand met
hul terugkoms van Kenhardt deur sy vriende by die huis aflaai is. Toe daar by
sy huis stilgehou word kon hulle hom nie wakker kry nie. Sy vriende help hom
toe uit die motor en maak hom staan teen die huis se voordeur, klop en laat
spat. Toe sy vrou die deur oop maak val hy sy hele lengte in die huis in, na sy
hom bekyk het kon sy maar net an die lag raak. Die oudspeler is vandag ‘n
bekende in rugbykringe in Stellenbosch se wereld.(Franco Schultz)
Skeidsregter verander
beslissing. Die
wedstryde teen Kenhardt was altyd baie hard, hulle het ‘n goeie span gehad wat
bestaan het uit jong boere en veld beamptes van die verskillende wolmakelaars.
Toe die klub hulle eendag op hul tuisveld gaan aanvat, dit was toe al ‘n
grasveld, was die skeidsregter Koos Louw en die een vlagman Vlok de Beer. Daar
was ‘n lynstaan vyf tree van Dorp se doelyn en Kenhardt kon ingooi. Die haker
gooi toe die bal vir die vleuel, ene Rheeder, wat in die vyftreë gebied teen
die kantlyn staan, en hy val oor vir die drie. Die skeidsregter wat agter die lynstaan
gestaan het kon nie sien dat die ingooi te vlak was nie en ken toe die drie
toe. Dorp se kaptein, Franco Schultz, maak toe heftig beswaar by die
skeidsregter wat op sy beurt die vlagman nader roep. Vlok de Beer erken toe
later dat die ingooi te vlak was, terwyl Kenhardt se skopper die bal stel om
pale toe te skop trek Koos Louw toe die drie terug. Kenhardt verloor toe die
wedstryd en daarmee ook hul kans om die liga te wen, die toeskouers was woedend
en Franco se werk die res van die dag was om vir Koos te beskerm teen
toeskouers wat sy bloed soek.(Franco
Schultz)
Upington Rugbyklub se
eie treindrywer en stoker. Die
klub het gereeld teen die Suide van Suidwes op Keetmanshoop rugby gespeel, met
een so ‘n besoek aan Keetmanshoop was Kiewiet Jansen, hoof van Hoërskool
Upington, die spanbestuurder. Die reis was vol teënspoed, eers het die trein
bly staan teen ‘n bult by Snydas en toe op Seeheim was daar geen trurat. Toe
die span uiteindelik by die veld aankom was die ander span klaar aangetrek. Die
aand moes die span wag vir ‘n passasierstrein vanaf Windhoek wat om 2:30
Sondagoggend op Keetmans sou wees om hul huis toe te neem, Oom Kiewiet wat nie
kans gesien het om die klomp jongmanne in toom te probeer hou tot die trein
opdaag nie, het by vriende van hom op Keetmans die tyd gaan verwyl. Dit gebeur
toe so dat die lokomotief wat rangeer, voor die stasie stop, Franco Schultz
stap toe na die lokomotief en herken toe die drywer as iemand wat saam met hom
in sub A was op Kakamas, hy vra toe die ou of hy en Sakkie van Niekerk nie ‘n
bietjie kan saamry nie, waarop die drywer toe instem. Sommer gou sien Franco
hoe die lokomotief werk en vra toe die drywer of hy nie ‘n bietjie kan oorneem
nie, diè stem toe weereens in. Franco vat toe die stokke en Sakkie gooi kole, terwyl die drywer die briek beman vir
ingeval daar fout kom. Met die ryery sien hulle vir Six van Aardt voor hulle op
die spoor staan, daar word toe gestop en Six klim ook op. Franco vra toe die
drywer of Six nie maar die briek kan vat nie, daar het die drywer toe egter
vasgeskop en die briek geklou asof sy lewe daarvan afhang. Soos dit hoort was
almal uitgevat in kleurbaadjie en das, dit was glo ‘n belewenis om te sien hoe
die drie daarna uitgesien het toe hulle weer onder die lig kom, een ding is seker
Suidwes se Spoorweg het nog nooit weer so ‘n drywer en stoker soos Franco en
Sakkie gehad nie.(Franco Schultz)
Opstokery op Saalskop. Eendag
toe die klub ‘n wedstryd op Saalskop gespeel het was Herklaas Engelbrecht (snr)
die een vlagman. Saalskop het drie tannies gehad wat hul stemme hees geskree
het die dag vir Saalskop, as dit lyk of een van Dorp se manne ‘n speler van
Saalskop te hardhandig behandel, het die tannies van hulle laat hoor, en wou
hulle met alle mag en mening op die veld storm om te gaan help. Kerneels Visser
wat saam met die klub Saalskop toe is as ondersteuner, het om die veld gestap
tot hy agter die drie tannies gestaan het. Toe Saalskop se losskakel die bal
naby hulle uitskop en Herklaas met die vlag die merk aandui waar die bal uit
is, sê Kerneels, hard genoeg vir die tannies om hom te hoor, dat die vlagman
steel darem verskriklik veld vir Dorp. Dit was net wat die drie tannies wou
hoor en hulle begin die arme vlagman uitskel vir alles wat laag en vuil is, en
beloof hom dat hy nie te groot is om slae te kry sou hy dit durf waag om weer
veld te steel nie. Op die pad terug vertel Kerneels, onder groot gelag, vir
Herklaas dat dit hy was wat die spul opgesteek het. (Kerneels “Witkop” Visser)
Wilde Weste Rugby. Daar
het ‘n groot polisieman vir Dorp gespeel met die naam Bronkie Bronkhorst,
eendag tydens ‘n wedstryd teen Keimoes het Alfons Payne sy sleutelbeen afgeskop. Bronkhorst het
geweier om van die veld af te gaan en het in die agterlyn gaan staan, regoor
Alfons Payne. Toe die bal tot by Bronkhorst kom het hy dit onder sy gesonde arm
vasgeknyp en reguit op Alfons afgehardloop, toe hy by hom kom het hy die bal
weggegooi en vir Alfons neergevel met ‘n almintige vuishou. Daarna het hy die
veld verlaat.(Witkop Visser)
Skelm Ref. Eendag op Keimoes, op die ou sandveld bokant die spoor, het ‘n skeidsregter geblaas wat so skelm was dat die toeskouers hom net wou aanrand. Hy bewerk die wedstryd toe so dat toe hy naby sy motor kom, wat langs die veld gestaan het, blaas hy die eindfluitjie en spring in sy motor en laat spat.(Franco Schultz)
Deurmekaarspul met
balle. Eendag
op die sandveld van Keimoes het Alec Kangisher, wat haker vir Dorp gespeel het,
onder in die losskrum beland. Die skrumskakel skree toe dat die manne die bal
moet haak, van onder uit die losskrum skree Alec dat almal hom kon hoor, “los
uit my bal”. Die bal waarvan hy gepraat het was duidelik nie die rugbybal nie.(Witkop Visser)
Herrineringe van Witkop
Visser 1935-1939. Harrold
Holmes - ‘n man wat sterk gehardloop het en ‘n paar manne was nodig om hom te
stuit. Herklaas “ Spykerboud” Engelbrecht - ‘n ongelooflike sterk voorry ten spyte daarvan dat hy lank was vir ‘n voorry. Charl
Nel - landbou onderwyser en kaptein van Dorp in die laat dertigerjare. Callie
van Heerden - ‘n wonderlike man met sy voete, hy het links geskop en was ‘n
baie bedrewe skopper. Koos
“Buurman” van Zyl - Sy bynaam op skool was “Koos Canèra”, hy was ouer as myself
en was een van die grootste seuns in die skool. Ons het op die skool se veld, wat ‘n veld met dik rooi sand was, gespeel en die veld het van Oos na Wes geloop. Tente is langs die veld opgeslaan wat gedien het as kleedkamers. Ek het as vyftienjarige skoolseun by die klub begin speel, party dae vir die skool en dan weer vir die klub. Toe ek in matriek was het ek vir die klub se eerstespan flank gespeel teen ‘n toerspan van die Universiteit van Kaapstad. In daardie jare was ons sterkste teenstanders Kakamas, van wie ons in 1938 die liga beker gewen het. Kakamas
was in daardie tyd ook die enigste klub met ‘n grasveld, dit was ‘n
besproeingserf met graspolle wat opgeslaan het.
Jong spelers word groot
gemaak. In
1972 op die ouderdom van sestien het ‘n seun by die klub begin speel, al was hy
eintlik ‘n skrumskakel, kies die keurders hom as heelagter vir die tweedespan
teen O.K.P., omdat hy so klein en jonk was en hulle hom so vêr as moontlik van
die groot manne af wou hou. Hy doen toe heel goed op heelagter en word die
volgende Saterdag vir die eerstespan gekies teen Oostelikes, ook weer as
heelagter en om die selfde redes. Tydens die wedstryd is Muggie Moolman beseer
en hulle skuif toe die seun na skrumskakel, waar hy gespeel het vir die
eerstespan totdat Vlok Hanekom sy been gebreek het in 1973. Teen diè tyd weet u seker al dat die speler waarvan ons hier praat is
Neels “Proppies” Nel.(Neels Nel)
Eetgoed met rustyd. In die dae toe dit nog gebruik was dat die spelers rustyd ‘n skyfie lemoen gekry het om aan te suig, het een van die spelers ‘n spanmaat ‘n lelike streep getrek. Hentie Nel het die bynaam van “Boerbok” gehad, toe die spelers rustyd hul lemoen ontvang gee een van die spelers toe vir Boerbok ‘n gerfie groen lusern aan. Dit is onnodig om te sê dat die manne gesukkel het om weer op die wedstryd te konsentreer vir die tweede helfte.(Raymond Young)
Reputasie boesem vrees
in. In
die seisoene nadat Herklaas Engelbrecht (jnr) opgehou speel het is hy nog
gereeld gevra om uit te help as daar ‘n voorspeler kort. So gebeur dit toe dat
Herklaas moes uithelp op voorry vir die eerstespan teen Weermag. ‘n Jongman wat
op Upington skool gegaan het, was die voorry vir weermag wat teen Herklaas moes
druk. Dit was gou duidelik dat die outjie groot ontsag vir sy opponent gehad
het. Voor elke skrum het die skrumskakel van weermag sy pak voorspelers
aangespoor met, “Druk hulle manne die ou ooms kry swaar”. Die voorry kon dit
later nie meer hou nie, hy sê toe in ‘n baie dun stemmetjie, “kêrels moet nie
vir oom Herklaas kwaad maak nie hy gaan vir ons seermaak”. Herklaas moes later
vir die outjie sê dat hy belowe hy sal niks maak nie, net om die man sover te
kry om teen hom te sak.(Schalk Schultz)
Vermoeiende terugreis. Na
‘n wedstryd teen Pofadder sou die manne vleis gebraai het erens langs die pad
met die terugkeer na Upington. Peter Holmes het ‘n entjie weg gestap om water
af te slaan, uit die lig van die vuur was hy vir ‘n oomblik heel blind en voor
die res hom kon waarsku val hy bo oor die draad langs die pad, na hy klaar
water afgeslaan het en terug stap verblind die vuur hom en val hy weer oor die
draad dat die stof so staan. Die Sondagoggend toe Charl Keun oppad was kerk toe
lui sy voordeurklokkie, dit was toe Willie Jonker wat net wou weet wanneer
braai hulle dan nou die vleis wat saamgevat is Kenhardt toe.(Herklaas Engelbrecht)
Padkos vir terugreis. Na
‘n westryd teen Brandvlei was daar die aand ‘n dans in die Brandvlei Hotel,
terwyl die manne dans sien hulle dat Franco Schultz kort-kort daar na die
kombuis se kant toe stap en dan weer uit na die bus. Toe die bus later vertrek
na Upington, deel Franco ‘n klomp gaar skaapnekke onder die manne uit op die
bus. Almal was baie bly oor die padkos en wou weet waar kom dit vandaan, die
storie kom toe uit dat Franco die skaapnekke een vir een vasgelê en in sy
fluweelbaadjie se binnesak uitgedra het bus toe.(Herklaas Engelbrecht)
Spiere wat nie weer sal hoes. Tydens ‘n voorwedstryd van skoolspanne op die Eiland, was daar geen noodhulpmense nie. Kort voor lank kry een van die skoolseuns seer en die skeidsregter roep die noodhulp. Iemand stop vir Eric de Wet, wat later die middag moes speel, ‘n ou noodhulptas wat in die klubhuis gelê het in die hand en vra hy moet die beseerde speler gaan help. Toe Eric by die speler kom kla diè van ‘n rugspier wat pyn, Eric maak die noodhulptas oop en daar is toe net ‘n klomp watte en pleister in die tas en een bottel onbekende vloeistof. Hy vryf toe maar die ou se rug goed in met die vloeistof. Terug by die paviljoen sien hy toe dat dit ‘n bottel hoesstroop is. Na die wedstryd het die skoolseun gesê dat die medisyne goed gewerk het maar sy trui het net kwaai aan sy rug vasgesit.(Eric de Wet) Huismoles Calvinia
Rugbyklub het eenjaar ‘n fees gehou en Dorp was een van die spanne wat die dag
daar gespeel het, na die wedstryd het Dantes Liebenberg, Willie Mans en Douvoet
Hyman besluit dat hulle bietjie gaan agterbly op Calvinia, toe die res van die
span later die aand terugry Upington toe. Willie Mans was op daardie stadium ‘n
onderwyser by ‘n laerskool op Upington. Die Maandag in die klas kom Douvoet se
seuntjie na Willie en sê, “ Meneer, weet Meneer wat het gisteraand by ons huis
gebeur, my ma het amper my pa geskiet”. Dit kom toe uit dat daar Sondagaand ‘n
biduur by Douvoet se huis was, terwyl die biduur aan die gang was kom stap
Douvoet toe daar in met sy Dorpbaadjie oor sy skouer, terug van Calvinia.(Dantes Liebenberg)
Deur diepe waters. Met ‘n toer van die klub in die Oos Vrystaat het die manne die dag gespeel teen Harrismith. Voor die wedstryd het dit verskriklik gereën en die hele veld het vol water gestaan. Tydens die wedstryd het Koos Liebenberg ‘n skop teen die kop gekry. Terwyl hy daar bewusteloos gelê het, het Apie Kuhn sommer met sy bakhande op die veld water geskep en op Koos se kop gegooi om hom te lawe.(Herklaas Engelbrecht)
Gevaarlike drywer. Dantes Liebenberg vertel dat hulle met een van die klub se toere, die dag oppad terug was met Bunny Theunissen se kombi, toe die manne besluit om poker te begin speel. Bunny wat die bestuurder was wou nie die kaartspelery mis nie en het van die stuur af saamgespeel. Volgens Dantes het Bunny elke keer as die spelery ernstig begin raak van die teer af gery omdat hy meer agter kyk as voor in die pad. As die manne vir hom sê dat die kombi op die gruis is dan sê Bunny net, ”toemaar ek hoor dit”. Almal het gelukkig veilig by die huis gekom.(Dantes Liebenberg) Toeskouers hoort buite
die speelveld. In
die jare toe Dorp en Spoorweg “aartsvyande” op die rugbyveld was het die manne
gereeld aanmekaar gespring wanneer dinge begin warm word, die toeskouers was
ook in twee kampe gedeel en daar het die humeure ook dikwels opgevlam. Een
Saterdag speel die twee klubs op die Eiland teen mekaar, toe Spoorweg ‘n drie
druk spring die skeidsregter in die lug en gooi sy arms omhoog van blydskap,
die Dorpmanne het nie baie daarvan gehou nie. Met die volgende afskop spring
die twee spanne aanmekaar, die losskakel van spoorweg storm vir Herklaas en
Herklaas help hom toe maar weer terug. Een van die toeskouers wat langs die veld
gestaan het, aan die telbord se kant, het weer nie baie daarvan gehou nie en
storm op die veld om vir Herklaas reg te sien. Die toeskouer het ‘n baadjie
aangehad en jy het net baadjiepante in die wind gesien soos hy op die veld
storm, die volgende oomblik sien jy net die baadjiepante waai na die ander
kant. Bert Young het in die toeskouer se pad gekom om sy kaptein te beskerm.(Herklaas Engelbrecht)
Oud maar nog nie koud. Charl Keun was vlagman tydens ‘n wedstryd tussen Dorp en Gordon Park, Apie Kuhn(snr) wat teen daardie tyd eintlik al ophou rugby speel het, moes uithelp op heelagter. Dorp kry ‘n strafskop en besluit om pale toe te skop, Charl hoor toe agter die pale hoe die skrumskakel vir die losskakel sê dat hy op die heelagter van Dorp moet skop, want diè is ‘n ou man en oor die muur. Nie lank nie of die losskakel kry toe die bal en los ‘n “up and under” op Apie, wat dit op spoed uit die lug vang, deur die hele span hardloop en onder die pale gaan druk. Weer agter die pale hoor Charl die skrumskakel sê dat die manne liewer nie weer op Dorp se heelagter moet skop nie.(Charl Keun) Vriende neem oefening
ernstig op. Christo
Wiese, vandag ‘n bekende sakeman, en Peter Holmes is groot vriende, al sedert
Christo nog op Upington gewoon het. Een aand by die oefening speel Peter en
Christo in twee oefenspanne teen mekaar, daar was min manne wat kans gesien het
om vir Peter Holmes van voor af te “tackle”, wat nog te sê op ‘n oefening.
Peter kry die bal en hardloop op vol spoed doelyn toe, hy was later deur die hele
span met nog net Christo voor hom. Die ander spelers het al gaan staan vir wat
na ‘n seker drie gelyk het, toe hulle Peter se voete die lug sien ingaan en sy
lyf met ‘n slag die grond tref. Christo het vir Peter voor die bors gevang en
gaan sit sodat diè oor hom val, dit was ‘n groot gespot na die oefening omdat
die kleinste van die twee maats die grote so kon aarde toe bring.(Herklaas Engelbrecht)
Drinkgoed met ‘n ander soort skop. Eric de Wet het die gewoonte gehad om altyd wanneer Noordwes Kaap ‘n wegwedstryd het, ‘n bottel KWV onder in sy tas te pak, sodat die manne Saterdagaand na die onthaal darem ‘n ietsie kan gebruik voor hulle gaan slaap. Meeste van die ander spelers het ook al daarvan geweet en so was daar die Saterdagaand na die onthaal ‘n hele paar dorstige manne wat saam met Eric kamer toe stap vir ‘n “night-cap”. Na ‘n groot gesoek in sy tas kom Eric toe met ‘n bottel Worcestersous te voorskyn, Eric se vrou het die KWV met die Worcestersous omgeruil net voor hy van die huis af is. Dit was ‘n klomp teleurgestelde manne wat toe vroeër as beplan moes gaan slaap.(Eric de Wet) Tien rand hou lank. In die dae toe geld nog baie werd was het Dorp ‘n toer onderneem om teen klubs te gaan speel in die Boland. Wanneer die manne by ‘n kafee stop om koeldrank te koop het Jan Louw gevra die manne moet tog eers sy koeldrank betaal want hy wil nie nou ‘n tien rand kleinmaak nie, dit het blykbaar so aangehou dat die manne op Malmesbury, wat al die tweede wedstryd op toer was, vir hom gesê het dat hy nou ‘n slag die tien rand sal moet breek anders gaan hy nog met hom huis toe.(Herklaas Engelbrecht) Goeie skopper. Tydens ‘n wedstryd kry die klub ‘n strafskop net binne hul eie halfgebied, Franco Schultz, wat onder die indruk is dat dit die kwartlyn is wat voor hul lê, roep vir Chris Hattingh nader en sê hy moet pale toe skop. Chris sê dat dit ‘n bietjie vêr is, maar sy kaptein hou aan dat hy moet skop. Chris skop toe, die bal was vir ‘n ewigheid in die lug voordat die vlae omhoog skiet om aan te dui dat die skop oor is. Die einste Chris Hattingh was eers ‘n sokkerspeler, by Dorp het hy begin as vleuel, die eerste aangee wat hy ontvang slaan hy toe met die kop, tot groot verbasing van sy spanmaats.(Franco Schultz en Charl Keun)
Boatrace in die vreemde. Na
die wedstryd in Engeland teen Bedford College, tydens die klub se oorsese toer,
het die klub se opponente hul uitgedaag vir ‘n “boatrace”. Elke span het uit
ses lede bestaan, wat elkeen twee bekers bier kry om uit te drink, asook ‘n
spanbestuurder wat moet toesig hou by die opponente om toe te sien dat hulle
nie mors nie. Die ses man staan dan agter mekaar en die voorste man drink sy
een beker leeg en keer die leë beker op sy kop om voordat die volgende man mag
begin, die agterste man (spilman) moet altwee sy bekers uitdrink voordat die
man voor hom weer kan begin. Dantes Liebenberg was die klub se spilman, en is
na die tyd uitgewys as die beste deelnemer, nadat hy oorgegee het was ons manne
een en ‘n half beker voor. Proppies Nel wat heel voor in die ry was, het toe hy
sy laaste oorgee ontvang blykbaar net gestaan en borrels blaas in sy laaste
beker. Ons manne het met ‘n halwe beker gewen. Ons spanbestuurder, Piet
Karsten, het blykbaar ‘n groot aandeel gehad in die oorwinning deurdat hy elke
keer wat dit lyk of een van hulle manne mors, het hy sy hand op die ou se kop
neergesit en sy kop met geweld in die beker gedruk.(Eric de Wet en Dantes Liebenberg)
Paniek in die vreemde. Een aand, in Engeland, kom hardloop Alex Joubert uitasem en doodbenoud in die hotelkamer by sy spanmaats in, en sê dat daar nou groot moeilikheid is. Die storie kom toe uit dat toe hy die aand alleen terugstap na die hotel, stap daar ‘n swartman en ‘n witvrou voor hom en hulle is in ‘n hewige argument gewikkel. Die man stamp toe die vrou en dit was net daar wat Alex hom vervies en die man ‘n helse klap gee, komende uit ‘n “apartheids land” en vêr van die huis in ‘n vreemde land besef Alex toe dat hier groot moeilikheid is, hy laat loop toe maar hotel toe.(Herklaas Engelbrecht) Oorsese bankiers. Oom Gerrie Nel en oom Andries Brand was kamermaats tydens die oorsese toer en hulle het saans vroeër gaan slaap as die jongmanne, dit het ‘n paar maal gebeur dat van die manne se geld in die aand opraak as hulle nog iets wil drink en het hulle dan sommer by die twee grootmanne gaan leen tot die volgende dag. Een aand voel Dantes Liebenberg siekerig en hy besluit dat hy dit rustig gaan vat die aand. Aangesien dit nog te vroeg was om te gaan slaap besluit hy dat hy ‘n bietjie by oom Gerrie hulle wil gaan gesels, toe hy aan hul deur klop hoor hy net twee stemme skree, “no money, no money”. Die twee was toe duidelik nie meer lus vir bankier speel nie.(Dantes Liebenberg) Dagskof en nagskof. Een
Sondagoggend op Stilbaai na ‘n wedstryd teen Riversdal, besluit Joos van den
Heever om kerk toe te gaan. Met sy terugkeer vanaf die kerk, tref hy sy
kamermaat Gesiggie, wat so pas ingekom het, aan waar hy besig was om uit te
trek en in die bed te klim. Gesiggie merk toe so droogweg op dat Joos darem
laat inkom.(Dantes Liebenberg)
Tricks of the trade. Die
eerste wedstryd wat Herklaas Engelbrecht(jnr) vir Dorp gespeel het was teen
Kenhardt, wat in daardie jare ‘n baie sterk span was en gereeld die beker gewen
het. Dorp wen die dag teen Kenhardt op Kenhardt en die manne sak toe daar in
die kroeg in om die oorwinning te vier. Die kaptein, Basil Holmes, sien dat
Herklaas maar eenkant staan , en vra hom toe of hy dan nie iets drink nie.
Waarop Herklaas toe antwoord dat hy nog nooit gedrink het nie en glad nie drank
ken nie, dus sal hy nie weet wat om te drink nie. Basil
vertel hom toe dat hy “brandy en coke” moet drink “want dit is die lekkerste”.
Dit is vandag nog Herklaas se gunsteling drankie.(Herklaas Engelbrecht)
‘n Boer maak ‘n plan. Daar
het ‘n baie goeie senter vir Kakamas gespeel met die naam “Dowe Giel Malan”, hy
het die naam gehad vanwee ‘n gehoor gebrek. Tydens
‘n wedstryd teen Dorp breek Giel deur Dorp se agterlyn en laat loop doelyn toe
met net Willie van Rooyen,die heelagter, voor hom. Willie wat geweet het sy kans
om vir Giel te stop is maar skraal, steek toe sy vingers in sy mond om ‘n fluit
aan te dui en wys met sy vinger in die rigting van die skeidsregter. Giel dag
toe dat die fluitjie geblaas het en gaan staan, toe hy omkyk hardloop Willie
van Rooyen hom by en duik hom onderstebo. Nodeloos om te sê dat Willie daarna
nie baie gewild was by die Kakamas ondersteuners en spelers nie. (Willem Barnard) We would love to hear your comments or send us any information u might have on the club. Email ons deur te click |